Alhoewel ons nog hier op aarde is, het kinders van God nie meer aardse burgerskap nie. Ons is bloot bewoners van die aarde. Ons word dan ambassadeurs, verteenwoordigers, afgevaardiges en gesante van die hemel hier op aarde.

"Ons tree dan op as gesante om Christus wil."

2 Kor. 5:20

2 Kor. 5:20 sê: "Ons tree dan op as gesante om Christus wil." Daarom dat Jesus tot Sy Vader bid t.o.v. Sy dissipels (Joh. 17:16): "Hulle is nie van die wêreld nie." Ons is wel ín die wêreld, maar beslis nie meer ván die wêreld nie. Wat 'n voorreg dat die bloed van Jesus jou so nuut maak dat dit selfs jou ou burgerskap ophef en jy oorgaan na hemelse status! (Sien Efe. 2:6)Nou is dit so jammer dat vele gelowiges leef soos mense wat dubbele burgerskap het. Wanneer dit hulle pas, is hulle hemelse burgers en wanneer dit hulle nie pas nie dan leef hulle soos aardse burgers. Die een voet in die wêreld en die ander voet in die kerk ... dit kan mos nou nooit nie werk! Hulle wil op twee weë tegelyk loop, die breë en die smal pad tegelyk. Dis nou soos my ballet-dogter altyd gepraat het van 'n "split" Dié mense wil ook 'n geestelike "split" doen.

Hoor hoe stel die Woord dit op 'n ander manier (Efe. 5:8): "Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die HERE — wandel soos kinders van die lig." Kom geliefdes, laat ons leef soos ware burgers van die hemel. Ons is op pad na die stad met fondamente (Heb. 11:10), die Nuwe Jerusalem (Open. 3:12), waar ons saam met Jesus gaan wees – wat 'n vooruitsig! Moet tog nie dat daar sleg gespreek word van ons land van burgerskap, omdat óns nie soos waardige burgers van die hemel wandel nie. (Efe. 4:1) Ons gedrag en lewenstyl moet so aantreklik wees dat almal wat ons sien en met ons te doen kry, begerig sal wees om hemelse burgerskap op te neem! (Hier is nou die plek waar jy kan amen sê!)

Die digter Totius en sy vrou verloor twee kinders: Hulle een dogtertjie wat deur 'n weerigstraal doodgeslaan is en hul eenjarige seuntjie wat aan breinvliesontsteking oorlede is. Hy skryf:

Die wêreld is ons woning nie. Dit merk ek aan die son wat wyk,  en 'k merk dit aan die reier wat  mistroostig na die son sit kyk  op een been, in die biesiesvlei.  En is die laaste strale weg,  dan rys 'n koue op uit dié vlei.  'n Koue gril deurhuiwer my;  en 'k sien dit dan aan alle ding  wat in die skemer my omring,  die wêreld is ons woning nie.

GEBEDHere, ek wag nie vir die ondernemer nie, maar vir die Opnemer! Daar is my burgerskap en ek leef daarvoor! Amen.

Pastoor Piet Smit


This free site is ad-supported. Learn more